S v Legote and Another (206/1999) [2001] ZASCA 64 (22 May 2001)













Rapporteerbaar

SAAKNOMMER: 206/99



In die saak tussen:



DIE STAAT Appellant



en



RONNIE LEGOTE 1e Respondent

MICHAEL SITHOLE 2e Respondent



Hof: HEFER Wnde HR, HOWIE en HARMS ARR

Verhoor: 15 MEI 2001

Gelewer: 22 MEI 2001


Sleutelbegrip: S v Legote en 'n Ander 1999 (1) SASV 269 (O) word onder loep geneem: Waarde van vingerafdrukke as getuienis; onreëlmatige strafverrigtinge




U I T S P R A A K







HARMS AR/

HARMS AR:

[1] Op 5 November 1996 het 'n transito-roof plaasgevind op die Bloemfontein-Dealesvillepad waartydens meer as sesmiljoen Rand gesteel is. Drie gesteelde voertuie is gebruik om die gepanserde voertuig waarin die geld was, voor te keer. Na aanleiding hiervan het drie beskuldigdes tereg gestaan op 'n aanklag van roof met verswarende omstandighede, vier aanklagtes van poging tot moord en drie van motordiefstal. (Die saak teen die vierde beskuldigde, no 2, is voorlopig teruggetrek.) Die staatsaak het deels berus op uitwysings wat deur een van die beskuldigdes aan die polisie gemaak is. Daarbenewens was die saak gebaseer op vinger- en palmafdrukgetuienis wat die drie met die misdaad moes verbind. Die verhoorhof (Edeling R) het, na afloop van 'n binne-verhoor, die getuienis t a v die uitwysing uitgesluit en, hoewel ek bedenkings het oor die op- en aanmerkings van die verhoorregter gemaak in die loop van die getuienis en in sy uitspraak, is hierdie bevinding finaal en moet dit daargelaat word.

[2] Aangesien die dokument waarop no 3 se vingerafdruk voorgekom het nie met die misdaadtoneel verbind is nie en aangesien sy uitwysings nie toegelaat is nie, was daar geen getuienis wat hom met die misdaad verbind het nie en is hy tereg aan die einde van die staatsaak ontslaan. Wat no 1 (tans die eerste respondent) en no 4 (die tweede respondent) betref, is die posisie die volgende. No 1 se vingerafdrukke is aan die skoongeveegde agterkant van die vervalste nommerplate van twee van die gesteelde voertuie gevind en no 4 se palmafdruk aan een van die gesteelde voertuie (dis gelig vanaf die bestuurskajuit langs die linkervoordeur waar die deur en die kajuit bymekaar kom). Daar was nie ander afdrukke op die voertuie nie en gomlastiek-handskoene is op die toneel gevind. Hoewel die Staat se deskundige nie die ouderdom van die afdrukke kon bepaal nie, het hy getuig dat hulle vars moes gewees het omdat die voertuie onlangs deeglik gewas is, iets wat noodwendig volg uit die feit dat die voertuie so min merke op gehad het. In ieder geval, waar daar aanklagtes van motordiefstal was en no 1 se vingerafdrukke agterop vervalste nommerplate gevind is, sou die ouderdom van die afdrukke in ieder geval nie noodwendig deurslaggewend gewees het nie.

[3] Die waarde van vingerafdrukke as bewysmateriaal om 'n beskuldigde aan 'n misdaad te verbind, is goed bekend. Normaalweg verskaf dit nie alleen prima facie-getuienis nie maar dikwels is dit beslissend (sien S v Arendse 1970 (2) SA 367 (C); S v van Wyk 1982 (2) SA 148 (NC)). Dis egter nie altyd so nie. R v du Plessis 1944 AD 314 is 'n geval waar die beskuldigde wat lank na die tyd gekonfronteer is met die feit dat sy vingerafdruk aan 'n gesteelde motor gevind is, die inkriminerende waarde van die getuienis ongedaan kon maak deur deels bespiegelende getuienis. Maar, soos die uitspraak by implikasie aandui, hang die bewyswaarde van vingerafdrukke van die getuienis as geheel af. Ook insiggewend is R v Nksatlala 1960 (3) SA 543 (A) (‘n geval waar ‘n motoris van sy motor beroof is). Een vingerafdruk is aan die binneruit gevind. Die ooggetuies het egter getuig dat dit nie die beskuldigde was wat die roof gepleeg het nie. Hy self het toe nie getuig nie. Sy appèl teen sy skuldigbevinding het geslaag. Opsommend het Schreiner AR op 551E-G die volgende gesê:

This is in my view a very difficult case. There is no doubt that the presence of the appellant's finger‑print on the inside of the window so soon after the robbery operates powerfully against him. And his failure to give evidence must add something to the weight on that side of the balance. Counsel for the Crown very properly stressed the importance of these factors. On the other side, however, there is the very important evidence of the persons present at the robbery, the fact that the trial Court did not, as it seems to me, deal with that evidence satisfactorily, and the fact that the Court accepted too easily the conclusion that the finger‑print could not have got onto the window before the robbery. The countervailing considerations had of course to be weighed against each other.”

[4] Om terug te keer na die onderhawige saak: aan die einde van die staatsaak het no 1 se advokaat aangedui dat hy van voorneme is om sy klient se getuienis te lei. Wat verder gebeur het, blyk uit Edeling R se uitspraak op die aansoek van die staat om regsvrae voor te behou, nl S v Legote en 'n Ander 1999 (1) SACR 269 (O) 271d-e, maar vir gerief haal ek dit weer aan:

Mnr Dempers [no 1 se advokaat]: Ek sal met u verlof inderdaad beskuldigde 1 as 'n getuie roep, maar omdat ek verstaan dat beide my geleerde kollegas namens beskuldigdes 3 en 4 die Hof wil toespreek met aansoeke, vra ek net 'n aanduiding by die Hof welke aspekte u eerste wil hanteer.

Hof: Wat het u, wil u beskuldigde 1 roep om wat te kom sê, wat het die Staat teen beskuldigde 1 sover gesê?

Mnr Dempers: Hulle het niks teen die beskuldigde nie.

Hof: Wil u hom roep sê u?

Mnr Dempers: Nee, ek sou hom geroep het, maar . . .

Hof: Die Staat het sy saak gesluit sonder om 'n woord getuienis teen u kliënt te gee.”

Soos te wagte het al drie die beskuldigdes toe aansoek om ontslag gedoen. Die staat het toegegee dat no 3 se aansoek moes slaag maar het no's 1 en 4 s'n teengestaan.

[5] In sy uitspraak op die aansoek om ontslag het Edeling R bevind dat hy “steeds” van mening is dat daar geen prima facie-saak teen no's 1 en 4 uitgemaak is nie en dat daar niks is waarop hulle hoef te antwoord nie. Nogtans het hy die aansoek afgewys. Of dit 'n behoorlike uitoefening van sy diskresie was in die lig van sy feitebevinding, hoef tans nie besleg te word nie. Vgl bv S v Jama and Another 1998 (2) SACR 237 (N). Die advokate het vanselfsprekend die onverbloemde uitnodiging om hulle sake te sluit in dankbaarheid en met ope arms aangegryp. Noodwendigerwys het 'n onskuldigbevinding gevolg.

[6] Die oppervlakkige en onjuiste benadering tot die vingerafdruk-getuienis deur Edeling R het die gevolg gehad dat persone teen wie die staat 'n saak gehad het wat 'n antwoord geverg het, denkbaar verkeerdelik vrygespreek is. Hierna het die staat 'n aansoek geloods ingevolge art 319(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 om die voorbehoud van regsvrae vir oorweging deur hierdie hof. Die voorgestelde vrae was die volgende:

1 Het die Regter regtens korrek bevind dat die vonds van die vingerafdrukke

(a) nie 'n prima facie‑saak uitgemaak het nie en

(b) nie 'n antwoord van die respondente geverg het nie?

2 Het die opmerking waarna in [par 5 hierbo] verwys is nie 'n onreëlmatigheid daargestel wat 'n regskending tot gevolg gehad het nie?”

Omdat die aansoek laat was, was kondonasie nodig maar dis geweier (op 276g-h). Hoewel Edeling R se regsuiteensetting in hierdie verband korrek was, was sy benadering tot die feite ietwat bekrompe en onnodig streng (274f-276f). Die afwys van die aansoek om kondonasie het die staat die geleentheid gegee om sonder verlof daarteen te appelleer (S v Gopal 1993 (2) SACR 584 (A)). Die staat het ook met sukses 'n aansoek om verlof om te appelleer na hierdie Hof gerig teen die weiering om die vrae voor te behou. Omdat die appèl teen die afwys van die kondonasie-aansoek alleen kan slaag indien daar andersins meriete in die voorgenome appèl is, handel ek vervolgens daarmee.

[7] Die eerste gestelde vraag is m. i. onteenseglik 'n feitevraag. Die staat het egter met verwysing na R v du Plessis (op 316) betoog dat dit 'n regsvraag is of “there was any legal evidence to support the finding of the Court that the accused was guilty”. Toevallig het die stelling in die konteks van die vraag of vingerafdrukke voldoende getuienis daargestel het, voorgekom. In Magmoed v Janse van Rensburg and Others 1993 (1) SA 777 (A) 815E-G (in die samehang van die sesde vraag (811H) in daardie saak gestel wat byna gelykluidend met die huidige vraag is), is bevind dat so ‘n vraag nie ‘n regsvraag kan wees nie uit die oogpunt van die staat nie:

There is thus, in my view, no historical or juristic basis for equating the position of an accused who complains that there was no evidence upon which the jury could reasonably or properly have convicted him with that of a prosecutor who complains that the evidence submitted to the jury was so strong that the jury could not reasonably have acquitted the accused.”

Hierdie is 'n noodwendige resultaat van die beleid wat in die Strafproseswet vervat is, nl. dat die staat nie 'n reg op appèl teen 'n onskuldigbevinding op grond van die meriete het nie. Edeling R was dus reg toe hy geweier het om hierdie vraag voor te behou (op 276j-277e).

[8] Die tweede vraag kan tereg as 'n regsvraag aangemerk word en dit verg dat weereens gelet moet word op die rol van die regterlike beampte in 'n strafverhoor. Reeds in R v Hepworth 1928 AD 265 277, het Curlewis AR verklaar:

A criminal trial is not a game where the one side is entitled to claim the benefit of any omission or mistake made by the other side, and a Judge's position in a criminal trial is not merely that of an umpire to see that the rules of the game are observed by both sides. A Judge is an administrator of justice, he is not merely a figurehead, he has not only to direct and control the proceedings according to the recognised rules of procedure but to see that justice is done.”

Dis 'n stelling wat met reëlmaat aangehaal en toegepas word. Vgl S v Gerbers 1997 (2) SACR 601 (SCA) 606. Die hof moet, sonder om sy onpartydigheid in te boet, die geding voor hom binne die perke van die strafprosesreg beheer en bestuur. So, bv., rus daar 'n plig op die hof om toe te sien dat 'n beskuldigde behoorlik verdedig word en nie om ongegronde redes van sy grondwetlike regte, soos die reg om homself nie te inkrimineer nie of sy swygreg, ontdoen word nie. Hy is geregtig om die staat daarop te wys dat wesenlike getuienis ontbreek. (Die teenoorgestelde standpunt gestel in S v Matthys 1999 (1) SACR 117 (C) kan nie onderskryf word nie.) As die verhoor besig is om te ontaard of tot niks te lei nie, is die hof geregtig om 'n aanduiding daarvan te gee. Die bevoegdheid om 'n saak aan die jurie te onttrek omdat daar nie voldoende getuienis teen die beskuldigde is nie, is heelwat ouer as art 221(3) van die Wet op de Kriminele Procedure en Bewijslevering 31 van 1917 (behandel in Magmoed op 813F-I).

[9] Dat dit 'n algemene gebruik van howe is om aan die einde van die staatsaak mero motu die vraag te opper of die beskuldigde op die verdediging geplaas moet word in die afwesigheid van 'n aansoek om ontslag, blyk uit S v Ndlangamandla and Another 1999 (1) SACR 391 (W) waar die standpunt gehuldig word dat die hof verplig is om dit te doen veral gesien die bepalings van die Grondwet. Dit was 'n geval waar die beskuldigde regsverteenwoordiging gehad het. Dat die hof die plig het om te sorg dat 'n onverdedigde beskuldigde teen wie die staat nie 'n prima facie-saak het, ontslaan word alvorens hy gaan getuig, is bevestig in 'n reeks gewysdes, o. a. S v Mashele 1990 (1) SACR 678 (T) en S v Amerika 1990 (2) SACR 480 (C). As dit so is en die beginsel van gelykberegtiging vereis dat 'n verdedigde beskuldigde nie slegter daaraan toe kan wees as 'n onverdedigde een nie, behoort die benadering ook by verdedigde sake te geld.

[10] Namens die staat is tereg toegegee dat dit nie onreëlmatig vir 'n hof is om waar, volgens sy mening, die staat nie 'n prima facie-saak uitgemaak het nie, die feit onder die aandag van die partye te bring nie. Waarop die betoog egter neerkom, is dat wanneer die hof se mening verkeerd is, word dit onreëlmatig. Die argument hou nie steek nie omdat die reëlmatigheid aldan nie van die hof se optrede in hierdie verband nie afhanklik gestel kan word aan die korrektheid van die hof se beoordeling van die feite van die saak nie.

[11] Dit volg dan dat die appèl teen die weiering om die twee regsvrae voor te behou, deels onontvanklik is en andersins nie kan slaag nie. Die appèl teen die afwys van die kondonasie-aansoek is dan akademies en verg nie verdere oorweging nie. Dit was egter nodig om met die feite van die saak en die waarde van vingerafdruk-getuienis te handel omdat, so is ons meegedeel, Edeling R se uitspraak in hierdie verband as bindende gesag aangehaal en gebruik word. Dis 'n uitvloeisel van die ketterse geloof dat uitsprake op feite as gesag geld, 'n geloof wat versterk word deur die gebruik om sulke uitsprake te rapporteer. Die presedente-stelsel geld ten aansien van regsbeginsels en regsbeginsels alleen. Feite-uitsprake het slegs bindende krag inter partes. Edeling R het nie voorgegee om enige regsbeginsel neer te lê nie maar om 'n waarde-oordeel te vel oor getuienis.

Beide appèlle word gevolglik van die hand gewys.




L T C HARMS

APPèLREGTER


Stem saam:

HEFER WNDE HR

HOWIE AR


▲ To the top

Cited documents 0

Documents citing this one 1

Judgment 1
1. S v Shole (20716/2014) [2015] ZASCA 123 (17 September 2015)