De Jongh v Du Pisanie (220/2003) [2004] ZASCA 43 (25 Mei 2004)

Reported

 

DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL

VAN SUID-AFRIKA

 

 

Saaknommer : 220/2003

 

 

In die saak tussen :

 

CHRISTIAAN DE JONGH APPELLANT

 

en

 

PIETER JOHANNES DU PISANIE NO RESPONDENT

 

 

 

 

CORAM : MARAIS, BRAND ARR et JONES WND AR

 

DATUM : 4 MEI 2004

 

GELEWER : 25 MEI 2004

 

Opsomming: Kwantifisering van skadevergoeding – liggaamlike beserings – veral breinbeserings – koste van versorging – voorsiening vir gebeurlikhede – algemene skadevergoeding – bevel in para 70.

_____________________________________________________

 

 

UITSPRAAK

 

 

 

BRAND AR/

 

 

 

BRAND AR :

[1] Die respondent tree op in sy hoedanigheid as kurator ad litem vir mnr J G Rabe ('Rabe') wat op 9 Julie 1993 in 'n motorongeluk beseer is. Ten tyde van die ongeluk was die appellant die bestuurder van die betrokke motorvoertuig en Rabe 'n passasier daarin. Voortspruitend hieruit het die respondent, namens Rabe, die appellant as verweerder in die Kaapse Hooggeregshof aangespreek vir die skade wat Rabe as gevolg van sy beserings gely het. Geriefshalwe sal ek vervolgens na die partye verwys soos in die hof a quo. Aanvanklik is die geskilpunte rondom die meriete van die verweerder se aanspreeklikheid afsonderlik bereg en in Oktober 2000 teen die verweerder beslis. By hierdie beslissing het die verweerder hom berus. Gevolglik is in Mei 2002 oorgegaan tot die verrigtinge ter kwantifisering van Rabe se skade. In die loop van hierdie verrigtinge is etlike getuies namens beide partye geroep. Aan die einde daarvan het die verhoorhof (Thring R) Rabe se skade in 'n bedrag van R5 697 388.14 vasgestel. Met verlof van die hof a quo kom die verweerder nou in hoër beroep teen hierdie vasstelling.

 

[2] Blykens die verhoorhof se uitspraak is die vasgestelde bedrag onder die volgende hoofde ingedeel:

(a) Toekomstige mediese koste en aanverwante

uitgawes R3 778 921.70

(b) Verlies aan verdienste R1 096 225.00

(c) Algemene skadevergoeding R 400 000.00

(d) Koste van kurator bonis (7.8 persent

van totaal van bostaande) R 412 241.44

R5 697 388.14

 

[3] By verre die grootste gedeelte van die bedrag in (a) word verteenwoordig deur voorsiening vir Rabe se toekomstige versorging. Volgens die verhoorhof se bevindings sal die gekapitaliseerde koste daaraan verbonde R3 306 720 beloop. Bygevolg is, na 'n aftrekking vir gebeurlikhede, wat deur die verhoorhof op 10 persent bepaal is, 'n bedrag van R2 976 048 vir sodanige versorging toegeken.

 

[4] Die verhoorhof se beslissings aangaande 'n hele aantal van die geskilpunte wat tydens die verhoor bestaan het, word op appèl aanvaar. Die besware wat op hierdie stadium nog deur die verweerder teen die verhoorhof se bevindings geopper word, is dus beperk en hou verband met aspekte wat onder die volgende vier hoofpunte saamgevat kan word:

(a) Die tipe versorging wat Rabe in die toekoms sal benodig.

(b) Die gebeurlikheidsfaktor wat die verhoorhof by die berekening van beide toekomstige versorgingskoste en toekomstige verlies aan verdienste op 10 persent bepaal het. (c) Twee van die talle individuele items wat by die berekening van toekomstige mediese uitgawes toegelaat is.

(d) Die bedrag wat vir algemene skade toegeken is.

 

AGTERGROND

[5] Die feite wat die oorblywende geskilpunte ter grondslag lê is op hierdie stadium grotendeels onbetwis. Ek handel vervolgens daarmee in die breedste moontlike trekke wat deur die perke van 'n sinvolle beredenering toegelaat word.

 

[6] Rabe is gebore op 5 November 1957. Ten tyde van die ongeluk op 9 Julie 1993 was hy dus 35 jaar oud. Beide hy en die verweerder was op daardie stadium as werknemers van Eskom by die onderhoud van hoogspanningskraglyne betrokke. Hulle was juis na 'n werksterrein op pad toe Eskom se bakkie, waarin hulle gereis het, van die pad geloop en omgeslaan het. Die liggaamlike beserings wat Rabe opgedoen het was ernstig en die gevolge daarvan ingrypend, soos binnekort sal blyk. Benewens verskeie kneusings het hy beserings van sy nek, rug, regterskouergewrig, regterknie en regterenkel opgedoen. As gevolg van hierdie beserings het Rabe reeds 'n operasie aan sy skouer ondergaan en sal hy na verwagting nog verdere ortopediese operasies moet ondergaan. Hierdie beserings het hom ook gelaat met aansienlike pyn, ongerief en gedeeltelike ongeskiktheid wat met verloop van tyd tot 'n mate afgeneem het. Dit duur egter nog steeds voort. Hy kla nog steeds van hoofpyn en van pyn in sy nek, skouer, knie, enkel en lae rug. Verder is die beweging van sy nek, skouer, knie en enkel in 'n sekere mate ingekort. Die verwagting is nie dat sy toestand in die toekoms wesenlik sal verbeter nie.

 

[7] Die ernstigste van Rabe se beserings was egter dié wat in die mediese verslae beskryf is as '′n uitgebreide verbrokkelde frontale skedelfraktuur wat tot in die oogkaste en wangbene gestrek het'. Hierdie beserings het 'n ekstradurale hematoom tot gevolg gehad wat bewusteloosheid veroorsaak het. Dit is die dag na die ongeluk chirurgies verwyder, waarna Rabe 'n tydperk van meer as 'n maand in hospitale moes deurbring. Voorts het die skedelfraktuur gepaard gegaan met onderliggende breinskade van tweërlei aard. Eerstens was daar ekstensiewe fokale skade aan beide frontale sowel as beide temporale lobbe van die brein. Tweedens was daar diffuse konkussiewe skade wat die hele brein betrek het maar meer matig van aard was. Dit is gemene saak dat hierdie breinbeserings 'n verandering in Rabe se persoonlikheid asook 'n inkorting van sy verstandelike vermoë meegebring het. Die persoonlikheidsveranderinge wat deur die deskundiges beskryf is as tipies van wat by frontale en temporale breindisfunksie verwag kan word, het sigself veral gemanifesteer in apatie, woedebuie, aggressie, 'n gebrek aan insig en oordeel asook 'n verhoogde seksdrang. Daarby het Rabe ook sy reuk- en smaaksin verloor. Daar is 'n beperkte geskil oor die werklike afname in verstandelike vermoëns wat die ongeluk vir Rabe meegebring het, asook oor die erns en gevolge van sy persoonlikheidsveranderings. Daarby kom ek aanstons terug. Wat egter ook vasstaan is dat Rabe nou, as gevolg van sy breinbeserings, epileptiese aanvalle kry. Hy het sy eerste aanval in November 1994 gehad. Daarna het die frekwensie van die aanvalle toegeneem tot gemiddeld vyf per maand. Met verloop van tyd is dit egter deur medikasie verminder. By die verhoor was dit een tot twee aanvalle per maand. Die neuroloog wat Rabe vir sy epilepsie behandel, was nie optimisties dat daar in die toekoms veel meer beheer oor die frekwensie van sy aanvalle verkry kan word nie.

 

[8] Die veranderinge in Rabe se persoonlikheid en sy epileptiese aanvalle het 'n ingrypende effek op sy beroeps- en gesinslewe gehad. Aangaande sy gesinslewe, blyk dit dat hy in 1981 getroud is met mev Anneline Rabe wat 'n raps minder as twee jaar jonger is as hy. Ten tye van die ongeluk in 1993 was sy dus 33 jaar oud. Uit hulle huwelik is twee seuns en 'n dogter gebore. In 1993 was die seuns onderskeidelik 12 en 10 en die dogter, 8 jaar oud. Voor die ongeluk was die Rabes 'n gelukkige gesin. Hulle was sosiaal bedrywig met 'n uitgebreide vriendekring wat gereeld saamgekuier het. Die ouers was nou betrokke by die kinders se skool en buitemuurse bedrywighede. Eskom se sport- en ontspanningsklub, waar Rabe vroeër rugby gespeel het en later jare op die bestuur gedien het, het ook 'n vername rol in die gesin se sosiale lewe gespeel.

 

[9] Wat sy beroep betref, het Rabe in 1982 by Eskom begin werk. In 1993 het hy reeds verskeie spesialiseringskursusse gedoen. Onder meer was hy opgelei om onderhoud en herstelwerk aan lewende hoogspanningslyne vanuit 'n helikopter te doen. Hy was gelukkig in hierdie werk. Na die ongeluk het Rabe in Januarie 1994 weer begin werk. Weens die beperkings wat sy beserings meegebring het, was hy egter nie in staat om soos voorheen aan lewende kraglyne te werk nie. Sy take was minder veeleisend, soos byvoorbeeld, om oor die oopkap van bome en plantegroei onder kraglyne toesig te hou. In November 1994 het hy egter begin om epileptiese aanvalle te kry. Gevolglik het hy, op aanbeveling van sy neuroloog, om ontslag weens mediese redes aansoek gedoen. Hierdie aansoek is met effek vanaf einde November 1996, deur Eskom toegestaan. Daarna het Rabe nooit werklik daarin geslaag om enige betalende werk te bekom nie. By die verhoor was dit gemene saak dat hy, weens die gevolge van sy liggaamlike beserings, permanent ongeskik is om enige lonende betrekking te beklee.

 

[10] Oor hoe die Rabes se sosiale lewe en gesinslewe nou, na die ongeluk, daar uitsien, was mev Rabe die eiser se vernaamste getuie. Volgens haar het sy, kort nadat haar man uit die hospitaal ontslaan is, agtergekom dat hy nie meer dieselfde persoon was nie. Hy was aggressief en het ontoepaslik in woede uitgebars vir die geringste irritasie of frustrasie. In die nege jaar wat tussen die ongeluk en die verhoor verloop het, het sy gedrag, volgens haar, nie werklik verbeter nie, hoewel sy intussen tog geleer het om dit in 'n mate te hanteer. Rabe is steeds koppig en eiesinnig. Hy skree en vloek op haar en die kinders. By verskeie geleenthede het hy haar al fisies aangerand. Hy gooi borde kos rond en breek die meubels. As hy 'n voorwerp probeer regmaak en nie daarin slaag nie, raak hy frustreerd en slaan hy dit met 'n hamer stukkend. Die kinders is bang vir hom en vlug van hom weg. Weens Rabe se onbeheersde en ontoepaslike gedrag en opmerkings kry hulle bykans geen besoek meer van vriende nie en gaan hulle selde uit.

 

[11] Daarbenewens is Rabe apaties en sonder dryfkrag. Hy verwyl sy ure deur televisie en videos te kyk of om op die rekenaar speletjies te speel. Hy raak dikwels in die middel van die nag wakker en neem dan sy plek voor die televisie in. Hy is fisies wel in staat om homself te versorg, maar vergeet om sy tande te borsel, te bad, skoon klere aan te trek asook om sy medikasie te neem. Sy moet hom gedurig aan hierdie take herinner. Daarby skep sy epileptiese aanvalle 'n groot probleem. Hy kry dit sonder waarskuwing en dit is vir mev Rabe verskriklik om te aanskou. Sy kan nie daaraan gewoond raak nie. Weens sy epilepsie kan sy hom nooit alleen laat nie en mag hy ook nie 'n motor bestuur nie. Nietemin dring hy daarop aan om dit te doen. As sy hom teëgaan raak hy so onredelik kwaad dat sy vir hom bang raak. Dan gee sy maar toe. So het dit gebeur dat hy by geleentheid 'n epileptiese aanval agter die stuur van sy voertuig gekry het. Gelukkig was een van sy seuns by en kon hy die voertuig tot stilstand bring. Dit alles, sê mev Rabe, het eintlik al vir haar te veel geword. Sy het al dikwels daaraan gedink om hom te verlaat. Wat haar egter steeds genoop het om deur te byt, is dat sy hom steeds lief het.

 

[12] Volgens die verhoorregter het mev Rabe ''n uitstekende goeie indruk' op hom gemaak en was hy van 'geen rede bewus waarom enige aspek van haar getuienis in twyfel getrek moet word nie'. Op my beurt kan ek geen gronde vind waarop hierdie hof geregtig sou wees om met die geloofwaardigheidsbevinding ten gunste van mev Rabe in te meng nie. Tog moet daar by beoordeling van mev Rabe se getuienis in gedagte gehou word dat 'n aansienlike deel daarvan nie werklik neerkom op 'n uiteensetting van konkrete feite nie, maar eerder op haar weergawe van hoe sy haar onhoudbare situasie oor 'n tydperk van meer as nege jaar ervaar het. By evaluering van daardie deel van haar getuienis moet weer rekening gehou word met haar psigiese en emosionele toestand toe sy getuig het. Sy en haar kinders het klaarblyklik deur diep waters gegaan. Volgens haar eie beskrywing, het sy byna breekpunt bereik. Dit is nie onverwags dat sy Rabe se algemene toestand deur 'n heel donker bril waargeneem het nie. Gevolglik is dit heel verstaanbaar dat die prent van Rabe se toestand wat deur die getuienis van sy vriende en kennisse geskilder is, hoewel ook maar donker, tog van 'n ligter skakering as mev Rabe s'n was.

 

[13] So het 'n vroeëre kollega en vriend van Rabe, mnr Harold Visser, namens die verweerder getuig dat hy na die ongeluk steeds met Rabe kontak gehad het. Nietemin het hy nooit Rabe se onbeheersde woedebuie ervaar of opgemerk dat hy ontoepaslik optree nie. In Desember 2000 het dit toevallig so gekom dat hulle twee weke saam by 'n vakansieoord langs die Bergrivier deurgebring het. In daardie tyd het hy vir Rabe en sy gesin gereeld gesien en het hulle vir hom na 'n hegte familie voorgekom. Kort voor hy getuig het, was Visser op 'n verjaardagpartytjie waar die Rabes ook teenwoordig was. Hy het 'n groot deel van die aand met Rabe gesit en gesels. Volgens sy ervaring het die gesprek heel sinvol verloop. Hy het ook opgemerk hoe Rabe by geleentheid met sy vrou gedans het. In kruisverhoor namens die eiser is nie aan Visser gestel dat hy sy getuienis versin het nie. Wat wel aan hom gestel is, was dat hy nie geweet het watter aggressie en onsmaaklike optrede deur Rabe sy gesin gedurende die vakansie langs die Bergrivier moes verduur nie.

 

[14] 'n Verdere getuie namens die verweerder was 'n onderwyser wat tot in 1998 vir die Rabes se oudste seun skoolgehou het. Volgens hom was die seun 'n goeie sportman en het Rabe, ook na sy ongeluk, groot belangstelling in die seun se sportbedrywighede getoon. Hy het dan ook gereeld die seun se oefeninge en wedstryde bygewoon en gehelp waar hy kon.

 

[15] Namens die verweerder is die Rabes se gemeente predikant, ds Dirk Bester, ook as getuie geroep. Hy het die gesin oor 'n tydperk van jare, voor en na die ongeluk, goed leer ken. Volgens ds Bester is hy na die ongeluk by geleentheid deur mev Rabe ontbied wanneer Rabe onbeheerbaar geraak het en kon hy tog daarin slaag om Rabe te kalmeer. Mev Rabe se antwoord hierop was, in die breë, dat Rabe hom wel gedra wanneer buitestaanders aanwesig is, maar met sy woedeuitbarstings en agressiewe optrede begin sodra hy weer alleen is met die lede van sy gesin.

 

[16] Na alles wil dit dus voorkom asof Rabe, hoewel hy nie alleen gelaat kan word nie en versorging nodig het, tog daarin slaag om in 'n mate van dag tot dag te funksioneer. Voorts lyk die afleiding geregverdig dat Rabe voldoende insig en oordeel behou het om homself in teenwoordigheid van buitestaanders toepaslik te gedra en dat hy terselfdertyd steeds oor voldoende selfbeheer beskik om sy optrede dienooreenkomstig in te rig.

 

[17] Wat die toekoms betref, is daar 'n mate van verskil tussen die deskundige getuies oor die vraag of Rabe se onaanvaarbare gedrag wat deur sy persoonlikheidsveranderings meegebring is, hetsy deur medikasie of terapie, verbeter kan word. Dit is duidelik dat geeneen van die deskundiges hieroor dogmaties kan wees nie. Nietemin is die verweerder se deskundiges oor die algemeen meer positief oor Rabe se prognose as die eiser se deskundiges. Alles inaggenome moet egter myns insiens aanvaar word dat Rabe se funksionering en gedrag in die toekoms nie dermate sal verbeter dat dit 'n noemenswaardige verskil sal maak by die beoordeling van die uitstaande geskilpunte nie. Dit stem ook in wese ooreen met die verhoorhof se slotsom in dié verband.

 

[18] Dit bring my by die afname in Rabe se verstandelike vermoëns wat deur sy breinbeserings teweeggebring is. Daar is geen getuienis beskikbaar oor wat Rabe se intelligensie kwosient ('IK') voor die ongeluk was nie. In November 1994, ongeveer 18 maande na die ongeluk, is wel psigometriese toetse op hom gedoen. Dit het gedui op inkorting van sommige kognitiewe funksies, veral sy geheue en sy vermoë om te konsentreer. Nietemin het sy praktiese IK op daardie stadium 117 getoets, sy verbale IK 89 en sy globale IK 103.

 

[19] In Mei 2001 is Rabe egter weer psigometries getoets deur dr Alison Madden, 'n neuro-sielkundige, wat namens die eiser as getuie geroep is. Volgens die resulate van dr Madden se toetse was Rabe se verbale IK en sy prestasie IK op daardie stadium beide in die omgewing van 70. Sy globale IK was 69. Hiervolgens was sy intellek in die heel onderste tweede persentiel van die samelewing en het dit hom in die kategorie van verstandelik gestremdes geplaas. 'n Jaar daarna, dit is in Mei 2002, is Rabe weer geëvalueer deur me Cora de Villiers, 'n neuro-sielkundige wat namens die verweerder getuig het. Die resultate van haar toetse was wesenlik dieselfde as die van dr Madden.

 

[20] Vir die dramatiese afname in veral Rabe se praktiese IK tussen 1994 en 2001 was daar geen voor-die-hand-liggende rede nie. Gevolglik het dit aanleiding gegee tot botsende teorieë deur die verskillende deskundige getuies oor wat die oorsaak daarvan kon wees. Dr Madden se teorie het daarop neergekom dat Rabe ly aan progressiewe demensie waardeur sy verstandelike vermoëns stelselmatig afgetakel word. Daarteenoor was me De Villiers se teorie dat Rabe tydens die toetsing in 2001 en 2002 sy kognitiewe tekortkominge gesimuleer het, oftewel doelbewus oordryf het. 'n Derde teorie was dat die dramatiese afname in Rabe se verstandelike vermoëns aan 'n kombinasie van faktore toegeskryf moet word. Faktore wat by hierdie kombinasie ingesluit word, behels, onder andere, sy herhaalde epileptiese aanvalle en die medikasie wat hy daarvoor gebruik, sy swak geheue en die totale gebrek aan stimulasie uit sy omgewing sedert November 1996 toe hy opgehou het om te werk. Daarby is daar 'n gebrek aan dryfkrag en emosionele beheer wat 'n inherente gevolg is van sy frontale lob beserings en wat sigself sou manifesteer in die afwesigheid van enige motivering om in die psigometriese toetse te presteer.

 

[21] In die loop van die verhoor is aansienlik tyd spandeer aan die verdediging en weerlegging van die onderskeie teorieë. In die uitspraak van die verhoorhof is die simulasie-teorie van me De Villiers pertinent verwerp. Ek vind dit egter onnodig om oor hierdie geskilpunt uitsluitsel te gee. Eerstens, omdat Rabe se oorblywende probleme wat op die uitstaande geskilpunte betrekking het, eerder te make het met sy epileptiese aanvalle en die veranderinge in sy persoonlikheid as met die afname in sy verstandelike vermoëns. Tweedens, is al die deskundiges dit in elk geval met mekaar eens dat die resultate van psigometriese toetse op 'n breinbeseerde persoon misleidend kan wees aangaande die persoon se werklike intellektuele vermoëns. Wanneer die uitslae van sielkundige toetse dus merkbaar verskil van die betrokke persoon se intellektuele funksioneringsvlakke wat deur kollaterale bronne aangedui word, moet die kollaterale inligting by die bepaling van die persoon se werklike intellektuele vermoë, voorrang geniet. Gevolglik was die deskundige getuies dit met mekaar eens dat die bepaling van 'n breinbeseerde persoon, soos Rabe, se werklike verstandelike vermoëns nie so seer afhang van die uitslae van psigometriese toetse nie, maar van hoe hy daagliks sy lewe hanteer.

 

VERSORGING

[22] Teen hierdie agtergrond kan ek nou oorgaan na die geskilpunte aangaande die tipe versorging wat Rabe in die toekoms nodig sal hê. Dit is gemene saak dat Rabe nie sy eie sake kan hanteer nie; dat daar vir hom 'n kurator bonis aangestel moet word en dat die verweerder aanspreeklik is vir die koste wat daaraan verbonde sal wees. Eweneens is dit gemene saak dat Rabe, veral weens sy epilepsie en persoonlikheidsveranderings, nie meer na homself kan omsien nie en dat hy voortdurend sorg nodig het. Die deskundiges aan beide kante is dit ook met mekaar eens dat vir solank mev Rabe nog met haar man saamleef, hy as eggenoot en vader in die gesinswoning moet aanbly en dat dit dus onwenslik sou wees om hom te institusionaliseer. Hy moet dus aan huis versorg word. Gedurende die nege jaar wat tussen die ongeluk en die verhoor verloop het, het mev Rabe hierdie versorgingstaak alleen verrig. Dit is egter nie die verweerder se saak dat sy daarmee moet voortgaan nie. Gevolglik is dit ook gemene saak dat die verweerder aanspreeklik is vir betaling van die koste wat nodig is om aan Rabe se redelike versorginsbehoeftes te voorsien. Die geskil tussen die partye draai om welke tipe versorging redelikerwys voldoende sal wees.

 

[23] Die voorstel van die eiser se deskundiges is in kort dat Rabe vir die res van sy lewe voltyds, dit is vir 24-uur per dag en vir sewe dae in die week, versorg moet word. Daarbenewens stel hulle voor dat die versorger bedags (dit is van sewe voormiddag tot sewe namiddag) 'n gekwalifiseerde stafverpleegster en snags (dit is van sewe namiddag tot sewe voormiddag) 'n verpleegassistent moet wees; dat beide van hierdie versorgers opleiding en ervaring moet hê in die hantering van psigiatriese pasiënte en dat oor beide van hulle toesig gehou moet word deur 'n professionele persoon in diens van 'n verpleegagentskap. Hierteenoor kan daar, volgens die verweerder se deskundiges, aan Rabe se versorgingsbehoeftes voldoen word deur 'n huishoudster/versorger wat opgelei is om Rabe se epileptiese aanvalle en gedragsprobleme te hanteer en wat op weeksdae vir mev Rabe met sowel die huishouding as Rabe se versorging kan bystaan.

 

[24] Die gekapitaliseerde waardes van die uitgawes wat die onderskeie versorgingsmodelle sal meebring, is by ooreenkoms bepaal. Hieruit blyk dat die verskil aansienlik is. Die gekapitaliseerde waarde van die uitgawes wat aan die implementering van die eiser se model verbonde sal wees, is die volgende:

Stafverpleegster (gedurende die dag) R1 939 310

Verpleegassistent (gedurende die nag) R1 342 930

Toesighouding deur verpleegagentskap R 24 480

Totaal R3 306 720

Hierteenoor sal die verweerder se voorstelle die volgende uitgawes meebring:

Huishoudster/versorger @ R2 250 per maand

plus 'n dertiende bonustjek en 'n verdere R700

per maand vir akkommodasie en 'n vervangende

versorger tydens vier weke se jaarlikse verlof

met voorsiening vir twee weke siekteverlof R639 280

Opleiding vir huishoudster/versorger @

R1 000 elke vyf jaar R 3 470

Toesig oor huishoudster @ R250 per maand R 45 970

Totaal R688 720

As 'n variasie op hierdie voorstel het die verweerder aanvaar dat die salaris van die huishoudster moontlik R3 000 in plaas van R2 500 per maand kan bedra. Die gekapitaliseerde bedrag van sy/haar salaris sal dan verhoog tot R795 250 en die totale koste van versorging tot R844 690. Die verhoorhof het die voorstelle van die eiser se deskundiges aanvaar. Dit het die bevinding meegebring waarna reeds ter aanvang verwys is, naamlik dat die gekapitaliseerde koste verbonde aan Rabe se toekomstige versorging, R3 306 720 sal beloop.

 

[25] Die vernaamste voorstanders van die eiser se voorstel was 'n arbeidsterapeut, me Elke Carey. Hoewel sy hoofsaaklik ondersteun is deur 'n psigiater, prof Tuviah Zabow, het die eiser se ander deskundige getuies hulle ook in beginsel by haar voorstel geskaar. Daarteenoor is die verweerder se voorstel verdedig deur me Marion Fourie, wat ook 'n arbeidsterapeut is, en 'n psigiater, dr Frans Hugo.

[26] Die eiser se deskundiges gee toe dat 'n huishoudster opgelei kan word om na Rabe om te sien wanneer hy 'n epileptiese aanval kry. Hul standpunt is egter dat slegs 'n verpleegkundige met opleiding en ervaring in die hantering van psigiatriese pasiënte in staat sal wees om Rabe se gedragsprobleme en veral sy woedeuitbarstings en aggressie te hanteer. Volgens me Carey moet so 'n verpleegkundige verkieslik ook oor die volgende eienskappe beskik: hy moet 'n fisies sterk man wees, omdat Rabe minder geneig sal wees om in die teenwoordigheid van 'n fisies sterk man tot geweld oor te gaan; hy moet 'n blanke wees want Rabe is geneig tot rassisme; hy moet Afrikaanssprekend wees en sy opvoedkundige status min of meer gelyk aan die van Rabe, sodat hy vir Rabe kan trakteer en besig hou. Hy moet ook 'n bestuurderslisensie hê. Op die stelling aan haar dat dit eenvoudig nie moontlik sal wees om 'n versorger te kry wat aan al hierdie vereistes, of selfs die meerderheid daarvan, voldoen nie, was haar antwoord die volgende:

'I agree … this is pretty much the ideal … finding the ideal is very difficult but one has to have a starting point of defining the ideal carer and then adapt to the situation.'

 

[27] Een punt waarop Carey onwrikbaar vasgestaan het, was dat niemand anders as 'n stafverpleegster met psigiatriese opleiding en ervaring in staat sal wees om Rabe se gedragsprobleme te hanteer nie. Hierin is sy deur prof Zabow en verskeie ander van eiser se deskundiges ondersteun. As rede waarom daar ook gedurende die nag 'n verpleegster aan diens moet wees, het me Carey aangevoer dat Rabe dikwels in die middel van die nag wakker word en dan iemand nodig het om hom te versorg. Hoewel hierdie versorger ook in staat moet wees om Rabe se gedragsprobleme te hanteer, hoef dit nie 'n opgeleide verpleegster te wees nie. 'n Verpleegassistent met psigiatriese ervaring sal dan voldoende wees. 'n Verdere element van Carey se voorgestelde model is dat die versorgers, beide bedags en snags, geroteer moet word. Om hierdie rede was haar verdere voorstel dat die versorgers deur 'n verpleegagentskap verskaf moet word wat dan terselfdertyd, teen 'n fooi, professionele toesig oor hulle kan uitoefen.

 

[28] Beide me Fourie en dr Hugo gaan uit van die standpunt dat 'n buitestaander nie die rol van primêre versorger by mev Rabe kan oorneem nie. Solank sy teenwoordig is, sê hulle, sal sy veral in die oë van Rabe, sy primêre versorger bly. Die rol van die versorger sal dus wees om mev Rabe te ondersteun. Na hulle mening hoef die versorger nie 'n opgeleide verpleegkundige te wees om hierdie ondersteunende funksie te vervul nie. Hulle stem nie saam dat slegs 'n verpleegkundige met psigiatriese opleiding en ervaring in staat sal wees om Rabe se gedragsprobleme te hanteer nie. Ook 'n huishoudster met volwassenheid en die vermoë om met mense te werk kan, volgens hulle, sekere basiese tegnieke aangeleer word om gedragsprobleme, soos aggressiewe uitbarstings, te hanteer. Hulle wys daarop dat by inrigtings wat juis daarin spesialiseer om na breinbeseerdes met gedragsprobleme om te sien, daar nie van opgeleide verpleegkundiges gebruik gemaak word nie. Soos by hierdie inrigtings, sê hulle, sal die taak van die versorger nie wees om Rabe te behandel en deur terapie te probeer rehabiliteer nie. Dit sal die taak wees van psigiaters en neuroloë vir wie se fooie reeds onder die hoof van 'toekomstige mediese kostes' voorsiening gemaak is.

 

[29] Volgens die verweerder se deskundiges sal die feit dat die versorger 'n opgeleide verpleegkundige is ook nie vir mev Rabe enige addisionele beskerming bied teen fisiese aanrandings deur haar man nie. Wanneer die versorger teenwoordig is, sal sy blote aanwesigheid, afgesien van sy opleiding, sodanige beskerming verskaf. Wanneer mnr en mev Rabe aan die anderkant alleen is, soos hulle dikwels sal wees, kan die feit dat die versorger 'n opgeleide verpleegkundige is, nouliks 'n aanranding wat volg op 'n impulsiewe woedeuitbarsting, verhoed. Positiewe inmenging deur die fisies sterk man wat me Carey voorstel, sal volgens die verweerder se deskundiges, juis die situasie vererger. Voorts, sê die verweerder se deskundiges, kan buitestaanders wat op 'n roterende basis permanent in Rabe se teenwoordigheid is vir hom 'n verdere bron van irritasie wees wat op sigself die oorsaak van woedeuitbarstings kan wees.

 

[30] 'n Verdere onderwerp van verskil tussen die onderskeie deskundiges het gewentel om die beskikbaarheid van die verpleegkundiges met opleiding en ervaring in die hantering van psigiatriese pasiënte. Die mening van die verweerder se deskundiges was dat sodanige verpleegkundiges onbekombaar sal wees. Ter weerlegging van hierdie mening is die verteenwoordiger van 'n verpleegagentskap namens die eiser geroep om te getuig dat dit tog moontlik is om die dienste van sulke verpleegsters te bekom. Hy moes egter op die ou end in kruisverhoor toegee dat hoewel nie onmoontlik nie, dit onwaarskynlik is dat hy sulke verpleegkundiges vir Rabe se privaat verpleging sal vind.

 

[31] Volgens die verhoorregter se uitspraak het hy, na aanhoor van al die deskundiges, meriete in beide die teenoorstaande standpunte gesien. Gevolglik het hy self vir mev Rabe aan die einde van die verhoor as getuie teruggeroep en haar pertinent voor die keuse gestel welke van die voorgestelde modelle sy wil aanvaar. Nie heeltemal onverwags nie, het sy toe haar voorkeur vir die eiser se model uitgespreek. Dit het die verhoorregter in 'n groot mate beïnvloed om dieselfde keuse te maak.

 

[32] By beoordeling van die teenoorstaande modelle wat voorgestel is, moet die feite wat volg myns insiens as gegewe aanvaar word. Rabe het geen fisiese versorging nodig nie. Hoewel hy soms vergeet om sy medikasie te neem of om na sy persoonlike higiëne om te sien, kan hy dit self doen as hy daaraan herinner word. Hoewel sy verstandelike vermoë drasties ingekort is, is hy tog in staat om in sy beperkte omgewing van dag tot dag te funksioneer. Hy kan homself tot 'n mate vermaak deur televisie te kyk en speletjies op 'n rekenaar te speel. Hy neem tog nog by geleentheid deel aan sosiale aktiwiteite, soos om deur verjaardagpartytjies en sportaktiwiteite by te woon. Hy gaan soms nog met sy familie uitkamp. Hoewel sy oordeel en selfbeheer ernstig gekompromiteer is, het hy dit nie heeltemal verloor nie. So byvoorbeeld kan hy homself daarvan weerhou om in die teenwoordigheid van derdes sy vrou fisies aan te rand. Weens sy epileptiese aanvalle, kan hy nie vir enige noemenswaardige tydperk alleen gelaat word nie. Bystand aan 'n epileptikus kan egter deur enigiemand verleen word wat 'n basiese opleiding ontvang het om dit te hanteer. Sodanige basiese opleiding kan aan enige verantwoordelike persoon gegee word. Rabe sal in die toekoms terapie ontvang om sy gedrag te probeer verbeter. Sodanige terapie sal egter nie verskaf word deur sy versorger nie, maar deur deskundiges en die koste daaraan verbonde sal vir die verweerder se rekening wees.

 

[33] Beide die teenoorstaande modelle is gebaseer op die premis dat Rabe en sy vrou nog saamleef in dieselfde huis. Indien die Rabes se samewoning om een of ander rede beëindig sou word, is daar, volgens die deskundiges, eintlik geen rede waarom hy nog in sy eie woning versorg moet word nie. In daardie omstandighede sal dit eintlik vir hom beter wees om opgeneem te word in 'n inrigting wat in die versorging van breinbeseerdes soos hy spesialiseer. Die koste verbonde aan sodanige institusionalisering sal minder wees as die versorgingskoste tuis waarvoor selfs ooreenkomstig die verweerder se goedkoper model voorsiening gemaak word.

 

[34] Aanvaarding van mev Rabe se teenwoordigheid in dieselfde huis bring aanvaarding mee van die gegewe dat die Rabes as egpaar by geleentheid, hetsy met vakansie of in die slaapkamer, noodwendig alleen in mekaar se geselskap sal moet wees. Enige model wat gebou is op die veronderstelling dat die versorger voortdurend in hul teenwoordigheid sal wees, is dus nie alleen onwerkbaar nie maar ook onwenslik. Daarmee saam moet in gedagte gehou word dat Rabe se woedebuie as 'n reël onverwags is en van korte duur. As hy dan sy vrou in so 'n onverwagse woedebui sou aanrand terwyl hulle twee alleen is, sal daar weinig wees wat enige versorger, afgesien van sy opgeleiding, daaraan kan doen. Voorts moet dit aanvaar word dat Rabe sy vrou, wat hom die afgelope elf jaar alleen versorg het, steeds as sy primêre versorger sal beskou. Hoewel dit waar is, soos die eiser betoog, dat die verweerder nie sy verpligtinge as delikpleger op mev Rabe kan afwentel nie, kan die voorgaande realiteite nie geïgnoreer word nie. As sy vrou by is, sal Rabe, ten spyte van 'n versorger, steeds haar hulp inroep as sy in die nabyheid is en sy sal dit uit die aard van hulle verhouding, steeds verleen.

[35] Daarbenewens moet as realiteit aanvaar word dat geen versorger mev Rabe effektief kan verskans teen die onaangenaamhede wat samelewing met Rabe in sy veranderde toestand steeds vir haar sal meebring nie. Wat gedoen kan word, is om aan haar die geleentheid te bied wat sy gedurende die afgelope elf jaar ontbeer het, om soms vir 'n slag op haar eie te wees en om, hetsy deur werk of ontspanning, haarself te verwesenlik. Wanneer sy tuiskom, sal sy egter maar weer gekonfronteer word deur haar man se epileptiese aanvalle en sy periodieke woedebuie. Dit is die ongelukkige werklikheid van die situasie waarin mev Rabe haar bevind solank sy die eerbare weg volg deur by hom te bly. Uiteraard het mev Rabe ook behoefte aan beskerming teen haar man se aanrandings. Volgens haar eie ervaring in die verlede sal dit waarskynlik nie in teenwoordigheid van 'n derde gebeur nie. In hierdie opsig sal die kwalifikasie van die versorger egter ook geen wesenlike verskil maak nie.

 

[36] Teen die agtergrond van al hierdie oorwegings kan ek in die eerste plek nie saamstem met die bevinding van die hof a quo dat Rabe ook gedurende die nag en vir sewe dae in die week versorging nodig het nie. Me Carey se motivering vir haar voorstel tot dien effekte is dat Rabe gereeld in die middel van die nag wakker word en dat hy dan 'n verpleegkundige nodig het om sy gedragsprobleme te hanteer. Die hoogwatermerk van die eiser se saak in hierdie verband is egter dat Rabe in die nag wakker word en voor die televisie gaan sit. Dit spreek van self dat Rabe nie 'n versorger nodig het wanneer hy maar net sit en televisie kyk nie. Me Carey se voorstel kom dus daarop neer dat daar 'n verpleegkundige dwarsdeur elke nag in die Rabes se huis aan diens moet wees bloot ter voorsiening van die moontlike gebeurlikheid dat Rabe hom dalk een nag mag wangedra. Dit getuig myns insiens van oordadigheid. Miskien is hierdie oordadigheid toe te skryf aan wat blyk me Carey se algemene uitgangspunt te wees, naamlik dat vir 'n ideale model van versorging voorsiening gemaak moet word. So 'n uitgangspunt is natuurlik verkeerd. Die juiste vraag is welke versorging Rabe redelikerwys nodig het.

 

[37] Uiteindelik, so wil dit voorkom, is die verhoorhof se bevinding dat Rabe voltydse sorg nodig het egter nie soseer op die mening van deskundiges nie, maar op die getuienis van mev Rabe gefundeer. Sy het die behoefte aan voltydse versorging aangevoer op die grondslag dat sy van plan is om weer te gaan werk en dat sy iemand nodig het om haar by te staan wanneer sy saans moeg van die werk af kom. Sy het ook die bekommernis uitgespreek dat sy dit nie sal kan hanteer as Rabe haar nagrus versteur terwyl sy die volgende oggend moet gaan werk nie.

 

[38] Op hierdie argument van mev Rabe is daar egter myns insiens ten minste drie antwoorde. Eerstens is dit onwaarskynlik dat mev Rabe ooit weer sal gaan werk. Sy het slegs 'n standerd 8 (nou graad 10) kwalifikasie. Sedert haar oudste kind se geboorte in 1981 het sy nog nooit gewerk nie en voor dit het sy klerklike werk gedoen. In hierdie omstandighede moet die kanse dat mev Rabe 'n werk sal bekom, baie skraal wees. Tweedens is daar die oorweging waarna ek reeds verwys het; dat terwyl mev Rabe met haar man saamleef, niemand haar werklik kan verskans teen die realiteite wat daardie samelewing vir haar meebring nie. Wanneer sy van die werk af kom sal sy, versorger of te nie, steeds met sy gedrag moet saamleef en in die nag sal hy haar waarskynlik steeds pla. Derdens dui gesonde verstand op die juistheid van die mening uitgespreek deur die verweerder se deskundiges, dat die gedurige teenwoordigheid van roterende buitestaanders in die Rabes se huis eerder verdere stremming op die Rabes se verhouding sal plaas en 'n bron van irritasie vir Rabe sal wees.

 

[39] Bowendien moet in gedagte gehou word dat mev Rabe getuig het in 'n toestand wat sy self as naby breekpunt beskryf het. Dit is te verstane. Op daardie stadium moes sy vir nege jaar sonder enige hulp of respyt na Rabe omsien en sy onaanvaarbare gedrag hanteer. Sy sal nou verligting kry. Welke model ook al aanvaar word, sal sy geleentheid kry om gedurende elke weeksdag op haar eie te wees. In hierdie veranderde omstandighede is daar geen rede om te glo dat sy, selfs wanneer sy weer tot verhaal gekom het, steeds nie sal kans sien om saans en oor naweke na Rabe om te sien nie.

 

[40] Ook wat betref die versorger se kwalifikasie kan ek nie saamstem met die verhoorhof se bevinding dat Rabe gedurende die dag slegs deur 'n stafverpleegster met opleiding en ervaring in die hantering van breinbeseerdes versorg kan word nie. Uiteindelik draai die vernaamste verskil tussen die deskundiges in hierdie verband om die vraag of 'n huishoudster met die regte persoonlike eienskappe en opleiding in staat sal wees om Rabe se aggressie en woedeuitbarstings te hanteer. Die verweerder se deskundiges sê sy sal kan, terwyl die eiser se deskundiges die teenoorstaande standpunt inneem. Oor hierdie aspek neem mev Rabe se eie getuienis nie die saak verder nie.

[41] Beide die eiser se deskundiges, me Fourie en dr Hugo, het aansienlike ervaring in die behandeling en hantering van pasiënte wat breinskade opgedoen het. Hul mening is onder meer gefundeer op die basis dat inrigtings wat in die versorging van breinbeseerde pasiënte spesialiseer ook nie van verpleegsters nie, maar van huishoudsters met die regte persoonlike eienskappe en die toepaslike opleiding gebruik maak om in die daaglikse behoeftes van hulle pasiënte te voorsien. Mev Fourie het dan ook getuig dat sy self in die verlede die toepaslike opleiding aan sulke versorgers verskaf het. Uiteraard is hierdie versorgers by inrigtings nie vir die terapie van breinbeseerdes verantwoordelik nie. Op die verweerder se voorstel sal dieselfde egter ook vir Rabe geld. Sy terapie asook die basiese opleiding van die versorger sal verskaf word deur deskundiges vir wie se fooie die verweerder aanspreeklik sal wees.

 

[42] Die mening van die verweerder se deskundiges kan nie sonder meer verwerp word nie. Inteendeel, is dit logies goed verantwoord. In elk geval is daar, op die beste vir die eiser, geen rede waarom hulle mening minder gewig moet dra as die teenoorstaande mening van die eiser se deskundiges nie. Gevolglik is die bevinding nie geregverdig dat die goekoper model wat hulle voorstel waarskynlik nie voldoende sal wees nie. In die omstandighede kan die verweerder nie verplig word om vir die aansienlik duurder model te betaal nie. Die feit dat die duurder model nog beter mag wees, is nie ter sake nie.

 

[43] 'n Verdere oorweging in die verweerder se guns is dat die versorger wat aan die vereistes van die eiser se deskundiges voldoen, waarskynlik nie bekom sal word nie. Die verhoorhof se antwoord hierop was dat dit geen rede is om Rabe die addisionele uitgawe wat aan sodanige versorging verbonde sal wees, te ontsê nie. Ek stem egter nie saam nie. In beginsel kan die verweerder nie aanspreeklik gehou word vir die addisionele koste van versorging wat waarskynlik nooit aangegaan sal kan word nie.

 

[44] Soos reeds aangedui, behels die verweerder se model twee alternatiewe voorstelle. Die eerste is dat die huishoudster/ versorger R2 250 per maand sal verdien terwyl die tweede voorsiening maak vir 'n salaris van R3 000 per maand. Aan die hand van me Fourie se getuienis is ek van oordeel dat, weens die besondere eise wat Rabe se versorging sal meebring, daar vir die hoër salaris voorsiening gemaak moet word. Met verwysing na die partye se ooreenkoms rakende die kapitalisering van toekomstige uitgawes, sal die koste van Rabe se versorging derhalwe R844 690 in totaal bedra.

 

GEBEURLIKHEID

[45] Die verweerder se tweede beswaar teen die uitspraak van die hof a quo het betrekking op die gebeurlikheidsfaktor van 10 persent wat ten opsigte van sowel Rabe se versorgingskoste as sy toekomstige verlies aan verdienste toegelaat is.

 

[46] Wat toekomstige verlies aan verdienste betref is die betoog namens die verweerder dat dit onderworpe gemaak moet word aan 'n aftrekking van minstens 25 persent vir gebeurlikhede. Ter ondersteuning hiervan is veral drie oorwegings aangevoer. Eerstens, dat Rabe 'n gevaarlike werk gedoen het wat onder meer behels het dat hy vanuit 'n helikopter aan lewendige hoogspanningskabels gewerk het. Tweedens, dat hy dikwels vir sy werk moes reis wat meegebring het dat hy in 'n groter mate as die normale aan die risiko van motorongelukke blootgestel was. Derdens, dat hy vanaf 'n vroeë ouderdom aan hipertensie gely het. In die lig hiervan, so is namens die verweerder betoog, moet voorsiening gemaak word vir 'n gebeurlikheid van minstens 25 persent dat Rabe, afgesien van die ongeluk, in elk geval, weens dood of besering in die toekoms 'n verlies aan inkomste sou ly.

[47] Gebeurlikheidsfaktore kan uiteraard nie met matematiese presiesheid bepaal word nie. Dit hang ten nouste saam met die feite en omstandighede van die bepaalde saak. Die verhoorregter moet die billike gebeurlikheidsfaktor, met in agneming van hierdie feite en omstandighede, in die uitoefening van sy diskresie bepaal. Op appèl word slegs met die uitoefening van hierdie diskresie ingemeng as dit nie behoorlik uitgeoefen is nie (sien bv Van der Plaats v SA Mutual Fire & General Co Ltd 1980 (3) SA 105 (A) 114F-115D). In hierdie lig vind ek dit onnodig om die betoog wat namens die verweerder in hierdie verband aangevoer is in besonderhede te oorweeg. Ek volstaan deur die bevinding te boekstaaf dat ek geen fout kan vind met die wyse waarop die verhoorregter sy diskresie uitgeoefen het nie.

 

[48] By versorgingskoste is die posisie ietwat anders. Die verhoorhof het klaarblyklik die gebeurlikheidsfaktor van 10 persent bepaal met verwysing na die model wat hy aanvaar het, synde die model wat die eiser aan hom voorgehou het. Indien hierdie hof die verweerder se model aanvaar ontstaan die vraag of die gebeurlikheidsfaktor van 10 persent moet bly staan. Namens die verweerder is betoog dat selfs in dié omstandighede toegelaat moet word vir 'n gebeurlikheidsfaktor van minstens 20 persent. Ter ondersteuning hiervan is in die eerste plek verwys na die moontlikheid dat Rabe se vrou hom in die toekoms mag verlaat, in welke geval hy waarskynlik in 'n inrigting sal beland waar sy versorgingskoste heelwat minder sal wees. Voorts is daar ook gewys op die getuienis waarvolgens Rabe daarop aandring om dinge te doen wat in die lig van sy potensiële epileptiese aanvalle vir hom verbode is, soos om sy motor te bestuur, waardeur sy risiko van mortaliteit aansienlik verhoog word.

 

[49] Myns insiens is daar meriete in die verweerder se betoog. Aan die anderkant is daar 'n gebeurlikheid wat in die eiser se guns in ag geneem moet word, naamlik dat die koste verbonde aan sy toekomstige versorging moontlik tog meer mag wees as wat by aanvaarding van die verweerder se model toegelaat word. In al die omstandighede dui oorwegings van billikheid myns insiens aan dat geen aftrekking vir gebeurlikheid gemaak word van die gekapitaliseerde koste wat vir Rabe se versorging voorsien word nie.

 

[50] Wat betref die restant van die toekomstige mediese uitgawes is geen rede aan die hand gedoen waarom ingemeng sal word met die verhoorhof se beslissing dat 10 persent vir gebeurlikhede afgetrek moet word nie. Hierdie beslissing moet derhalwe bly staan.

 

DIE BESWAAR TEEN TWEE INDIVIDUELE ITEMS WAT AS DEEL VAN TOEKOMSTIGE MEDIESE KOSTE TOEGESTAAN IS

[51] Die eerste item waarteen die verweerder beswaar maak, behels 'n bedrag van R110 400. Dit verteenwoordig die gekapitaliseerde koste vir maandelikse psigiatriese sessies vir die res van Rabe se lewe teen R500 per sessie. Die verweerder ontken dat Rabe geregtig is op maandelikse sessies vir die res van sy lewe. Sy betoog is dat Rabe slegs vir vier jaar op maandelikse sessies geregtig is en daarna op een sessie elke ses maande. Aanvaarding van die verweerder se betoog sal meebring dat die gekapitaliseerde koste verbonde aan psigiatriese sessies slegs R17 000 sal bedra. Die aansienlike verskil van R93 400 tussen die twee bedrae hang ten nouste saam met dr Hugo se meer optimistiese siening as dié van prof Zabow oor die mate waarin Rabe deur terapie gerehabiliteer sal kan word. Alles inaggenome kan die verhoorhof myns insiens nie fouteer word in sy aanvaarding van prof Zabow se meer pessimistiese siening nie. Hiervolgens is die moontlikheid van suksesvolle terapie eerder 'n gebeurlikheid, wat inderdaad as sodanig deur die verhoorhof in ag geneem is. Gevolglik moet die toekenning van R110 400 bly staan.

 

[52] Die tweede beswaar is teen die voorsiening van R77 270 vir psigometriese medikasie. Die verweerder voer aan dat hierdie toekenning neerkom op 'n duplikasie omdat daar reeds vir dieselfde medikasie voorsiening gemaak is onder die hoof van behandeling vir epilepsie.

 

[53] Dit blyk dat daar inderdaad onder die hoof 'koste weens epilepsie' voorsiening gemaak is vir die koste van medikasie ten bedrae van R720 per maand wat dan 'n gekapitaliseerde uitgawe van om en by R320 000 meebring. Daar is ook aanduidings op die getuienis dat die medikasie wat vir Rabe se epilepsie voorgeskryf word en die psigotropiese medikasie vir beheer van sy gedrag, dieselfde is. Die sterkste aanduiding van duplikasie blyk egter uit 'n verslag van die eiser se psigiater, prof Zabow, waarin hy die volgende stelling maak:

'Medical expenses for Mr Rabe are estimated as follows:

Psychotropic and anticonvulsant medication : R750.00 per month' (My beklemtoning).

 

[54] In antwoord op die onderhawige beswaar verwys die eiser na 'n vorige verslag van prof Zabow waarin hy aandui dat die koste van psigotropiese medikasie 'between R300 and R400 per month' sal wees. Dit is duidelik dat die R77 270 waarteen die onderhawige beswaar gerig is, op die basis van hierdie verslag bereken is. Teen hierdie agtergrond is die eiser se teenargument dus dat die beswaar van duplikasie nie ontvanklik is nie, omdat dit berus op 'n dubbelsinnigheid voortspruitend uit twee verslae van prof Zabow wat nooit in kruisverhoor met hom opgeklaar is nie. Die antwoord op hierdie teenargument is myns insiens tweeledig. Eerstens is die beraamde bedrag van R750 per maand wat volgens prof Zabow die koste van beide epileptiese en psigotropiese medisyne sal dek, net te na aan die bedrag van R720 wat vir epilepsie medikasie voorsien is, om bloot toevallig te wees. Tweedens kan die eiser nie die voordeel kry van 'n onopgeklaarde dubbelsinnigheid in die getuienis van sy eie deskundige nie. Gevolglik moet myns insiens ten gunste van die verweerder aanvaar word dat die beswaar van duplikasie geldig is en dat die bedrag van R77 270 derhalwe verkeerdelik toegestaan is.

 

ALGEMENE SKADE

[55] Rabe se belewenis van die ontstellende verlies wat die verweerder se onregmatige daad in sy lewe teweeggebring het, is vir die buitestaander nouliks denkbaar. In sy dertigerjare het hy sy werk verloor en hy sal nooit weer enige betrekking kan beklee nie. Waar hy vroeër 'n gelukkige gesinsman was, is sy kinders nou bang vir hom en loop hy gevaar om sy vrou te verloor. Indien dit gebeur is sy vooruitsig om die res van sy lewe in 'n inrigting te slyt. Sy vriendekring het drasties verklein. Hy is bewus daarvan dat hy in 'n groot mate beheer oor sy eie gedrag verloor het en dat sy verstandelike vermoëns aansienlik verminder het. Hy kry epileptiese aanvalle en gevolglik mag hy nie meer 'n motor bestuur nie. Dit pla hom dat hy nie meer vir sy gesin kan sorg nie en van 'n permanente versorger afhanklik is. Sy daaglikse aktiwiteite is beperk en sy wêreld het gekrimp. Daarbenewens bring sy ortopediese beserings steeds vir hom pyn, ongerief en ongeskiktheid mee, welke toestand na verwagting nie in die toekoms sal verbeter nie.

 

[56] Rabe is geregtig op billike kompensasie vir hierdie verlies. Die bedrag van sodanige kompensasie moet egter ook billik wees teenoor die verweerder. Dit is juis in 'n geval soos hierdie waar die hof moet waak teen die menslike geneigdheid om te oorkompenseer. Of, soos Innes HR dit gestel het in Hulley v Cox 1923 AD 244.246 'we cannot allow our sympathy for the claimants in this very distressing case to influence our judgment'.

 

[57] Nadat die verhoorhof 'n uiteensetting gegee het van alles wat Rabe verloor het, het hy hom soos volg uitgelaat:

'Kan daar verbeel word dat enige bonus paterfamilias ooit sou toestem dat hy in Rabe se huidige posisie geplaas word, wat die skadevergoeding daarvoor ookal mag wees? Ek dink nie so nie.'

Dit is nie heeltemal duidelik wat hierdie stelling beteken nie. Word daarmee 'n maatstaf geïntroduseer waarvolgens die vraag is hoeveel geld die bonus paterfamilias sou aanvaar om die eiser se beserings op te doen? Hoewel hierdie toets blykbaar soms in die Verenigde State van Amerika aangewend word (sien Visser en Potgieter, Skadevergoedingsreg 2de uitgawe 443 vn 35) sou dit in ons reg op 'n mistasting neerkom. Soos wat Schreiner AR immers uitdruklik in Sigournay v Gillbanks 1960 (2) SA 552 (A) 572D-E gesê het:

'…as has frequently been observed, one cannot attempt to award an amount which anyone in his senses would accept in return for this happening to him.'

Ek aanvaar egter dat dit nie is wat die verhoorhof bedoel het nie; dat hy maar net wou aandui dat geen bedrag geld ooit genoeg sal wees om Rabe te vergoed vir dit wat hy verloor het nie.

[58] Die probleem is natuurlik dat kompensasie slegs in geld betaal kan word en die hof se dilemma juis is om 'n geldwaarde toe te ken vir 'n verlies van dit wat geen geld kan koop nie. Een van die aanvaarde riglyne wat die howe ter oplossing van hierdie dilemma aanwend, is om te kyk na vorige toekennings in vergelykbare gevalle. Met verwysing na hierdie riglyne is die verweerder se vernaamste argument juis dat die verhoorhof se toekenning van R400 000 geheel en al buite verhouding is met die toekennings wat voorheen in vergelykbare sake gemaak is. Ter ondersteuning van hierdie argument is verwys na sake soos Mautla v Road Accident Fund ('RAF') Corbett & Honey, Quantum of Damages in Bodily and Fatal Injury Cases Vol V, B3-1; Bridgman NO v RAF op cit B4-1; Harcourt NO v RAF op cit B4-29 en Botha en 'n ander v Santam Beperk op cit B4-39. Aan die hand van die toekennings in hierdie sake, waarin die eisers almal ook breinbeserings opgedoen het, was die betoog namens die verweerder dat 'n billike vergoeding vir Rabe se algemene skade hoogstens R120 000 kan wees.

 

[59] Die hof a quo se antwoord op die verweerder se gelykluidende beroep op toekennings in vorige beslissings was hoofsaaklik dat daar 'in van die jongste beslissings 'n neiging by party van ons howe [te bespeur] is om groter bedrae as algemene skadevergoeding in gevalle van ernstige beserings toe te ken as wat soms in die verlede die geval was'.

En, het die verhoorhof voortgegaan:

'Hierdie opwaartse neiging in toekennings vir algemene skadevergoeding in ernstige gevalle is myns insiens te verwelkom …

In ernstige gevalle soos die onderhawige is skadevergoeding 'n powere plaasvervanger vir die menigte genietinge, plesiere en vervullings wat 'n gesonde lewe die mens aanbied: dit betaam nie 'n beskaafde samelewing om in verdienstelike gevalle daarmee suinig te wees nie.'

 

[60] Die stygende tendens vir toekennings in algemene skade in die meer onlangse verlede is duidelik waarneembaar. Ek kan egter nie saamstem met die verhoorhof se uitgangspunt waarvolgens dit toegeskryf moet word aan 'n siening dat suinigheid met vergoeding vir ernstige beserings nie 'n beskaafde samelewing betaam nie. Aangesien dit nie die gemeenskap is wat moet betaal nie, maar die verweerder, het suinigheid aan die kant van die gemeenskap met die saak niks te make nie. Dit betaam net so min die gemeenskap (of dan die hof) om te gulhartig te wees met die verweerder se geld, al was hy of sy regtens aanspreeklik weens sy of haar nalatige gedrag. Die volgende uitlating van Holmes R in Pitt v Economic Insurance Co Ltd 1957 (3) SA 284 (D) 287E-F vind dus eweneens toepassing in onderhawige verband:

'[T]he court must take care to see that its award is fair to both sides – it must give just compensation to the plaintiff, but it must not pour out largesse from the horn of plenty at the defendant's expense.'

Konserwatisme by die toekenning van algemene skadevergoeding het sy oorsprong in 'n behoefte dat daar ook teenoor die verweerder billikheid moet geskied en nie in die suinigheid van die gemeenskap teenoor die eiser nie.

 

[61] In hierdie hof het die eiser die verhoorhof se toekenning van R400 000 op twee grondslae ondersteun. Eerstens, op die basis van die opwaartse neiging in jonger beslissings waarna reeds verwys is en, tweedens, op die basis dat Rabe se beserings en die gevolge daarvan heelwat ernstiger was as dié van die eisers in die sake waarop die verweerder steun.

 

[62] Volgens die eiser se betoog is die uitgangspunt van 'n stygende tendens deur hierdie hof onderskryf in Road Accident Fund v Marunga 2003 (5) SA 164 (SCA). In Marunga, so is betoog, het hierdie hof die toekenning deur die Natalse Afdeling, gedurende 1997, in die saak van Wright v Multilateral Vehicle Accident Fund Corbett & Honey op cit Vol IV E3-31, as riglyn aanvaar. Dit is ook aanvaar dat die toekenning van R65 000 in Wright vergelykbaar was met 'n bedrag van R81 000 ten tyde van die Marunga-saak (para 26, 170E). Nietemin het hierdie hof aan Marunga algemene skadevergoeding in 'n bedrag van R175 000 toegeken (para 34, 172E-F). Dit, so is namens die eiser betoog, regverdig die afleiding dat die stygende tendens na hierdie hof se oordeel 'n toekenning regverdig het van meer as dubbel die bedrag wat deur die bestaande riglyn aangedui is.

 

[63] Die wyse waarop in die eiser se voorafgaande betoog met die riglyn van vorige toekennings omgegaan word, is eenvoudig onaanvaarbaar. Die voorgestelde werkswyse kom daarop neer dat eers gepoog word om sake te vind waarin die beserings en sequelae min of meer dieselfde is. Daarna word die toekennings in daardie sake met matematiese presiesheid by huidige geldwaarde aangepas. Hierdie aangepaste bedrag word dan, weer eens met matematiese eksaktheid, vermenigvuldig met 'n faktor van twee, of wat ook al. Die som van hierdie berekeninge is dan die skadevergoeding wat aan die eiser toegeken moet word. Op die ou end bly daar van die hof se diskresie weinig oor.

 

[64] Die benadering wat van oudsher deur hierdie hof gevolg word, is egter juis andersom (sien byvoorbeeld, Hulley v Cox supra 246, Sigournay v Gillbanks supra 556 en Protea Assurance Co Ltd v Lamb 1971 (1) SA 530 (A) 535). Volgens hierdie benadering is die beginsel juis dat die vasstelling van nie-patrimoniële skade in die diskresie van die hof is. By die uitoefening van die hof se diskresie is vergelyking met toekennings in vorige sake 'n nuttige hulpmiddel omdat dit darem vir die hof die breë parameters oftewel 'n patroon aandui waarbinne sy toekenning tuisgebring moet word. Dit is ook 'n nodige riglyn omdat konsekwentheid in toekennings 'n inherente vereiste van billikheid is. Nietemin bly dit steeds 'n riglyn. Dit vervang nie die hof se diskresie met 'n letterknegtige gebondenheid aan die aangepaste waarde van vorige toekennings nie.

 

[65] Die stygende tendens van toekennings in die onlangse verlede is, soos ek alreeds gesê het, duidelik waarneembaar. Die effek daarvan is egter weer eens nie met matematiese presiesheid bepaalbaar nie. Dit is nie seker presies wanneer die tendens begin het en wanneer dit sal eindig nie. Dit het bes moontlik reeds tot 'n einde gekom. 'n Bepaalde toekenning uit die verlede waarna verwys word kon dus reeds met inagneming van die tendens geskied het. As die vorige beslissing wat as maatstaf dien reeds met inagneming van die stygende tendens gemaak is, kan dit nouliks geregverdig word om op grond van dieselfde oorwegings sonder enige bykomstige rede, 'n verdere styging toe te laat. Daarbenewens verg die tendens klaarblyklik nie die vermenigvuldiging van vroeëre toekennings met 'n voorafbepaalde of bepaalbare faktor nie. Op die ou end is die tendens maar net nog 'n oorweging wat die hof geregverdig is om in ag te neem wanneer hy, by die uitoefening van sy diskresie, na vorige toekennings, veral in ouer sake, as riglyn verwys.

 

[66] Dit bring my by die eiser se betoog wat berus op die beslissing van hierdie hof in die Marunga-saak. Volgens hierdie betoog stel dié beslissing in wese 'n waterskeiding daar en is dit gesag vir die proposisie dat toekennings na die waterskeiding dramaties hoër, en selfs tot twee maal soveel, as toekennings in vergelykbare sake voor die waterskeiding moet wees. As dit inderdaad is wat Navsa AR in die Marunga-saak sê, kan ek met respek, nie met hom saamstem nie. Dit is egter nie hoe ek sy uitspraak verstaan nie. Myns insiens verleen hy nie aan die stygende tendens in toekennings 'n groter rol as wat ek voorstel nie. Hy dui immers uitdruklik aan dat hierdie stygende tendens maar slegs een van die oorwegings is op grond waarvan sy uiteindelike toekenning berus. Daarbenewens verwys hy pertinent (in para 34, 172E) na dicta uit die Wright-saak wat daarop dui dat die toekenning in daardie saak, wat hy as maatstaf aangelê het, reeds met inagneming van die stygende tendens gemaak is. Om op grond van dieselfde oorwegings die toekenning in daardie saak te verdubbel, of selfs dramaties te verhoog, sou nouliks regverdig kon word.

 

[67] Waarmee ek my egter wel vereenselwig is die verdere betoog namens die eiser dat die sequelae van Rabe se beserings en die indirekte gevolge wat dit vir hom meegebring het, heelwat ernstiger is as dié wat ter sprake gekom het in die beslissings waarop die verweerder hom vergelykenderwys beroep. Dit is veral so omdat Rabe, benewens die sequelae van sy breinbeserings, ook nog te kampe het met die permanente pyn, ongeskiktheid en ongerief wat sy ortopediese beserings vir hom meegebring het. Alles inaggenome sou ek, as hof van eerste instansie, 'n toekenning van R250 000 vir Rabe se algemene skadevergoeding maak. Dit verskil so drasties van die verhoorhof se toekenning van R400 000 dat inmenging deur hierdie hof geregverdig is.

 

SAMEVATTING

[68] In die lig van die voorgaande moet die verhoorhof se toekennings myns insiens aangepas word soos blyk uit dit wat volg:

1. Toekomstige mediese koste en aanverwante uitgawes

Onder hierdie hoof het die verhoorhof, voor aanpassing vir gebeurlikhede, 'n bedrag van R4 209 913 toegestaan. Daarvan moet twee bedrae afgetrek word. Eerstens die bedrag van R3 306 720 wat die verhoorhof, op aanvaarding van die eiser se model, vir versorgingskoste voorsien het en, tweedens, die bedrag van R77 270 wat vir psigometriese medikasie toegeken is. Die balans van R825 923 is onderworpe aan 'n verdere aftrekking van 10 persent vir gebeurlikhede. Dit laat 'n bedrag van R743 330.70. Daarby moet die bedrag van R844 690 getel word wat ooreenkomstig die verweerder se model vir Rabe se versorging nodig is. Dit bring die toekenning onder hierdie hoof op R1 588 020.70 te staan.

2. Verlies aan verdienste

Met die verhoorhof se toekenning van R1 906 225 onder hierdie hoof, word nie ingemeng nie.

3. Algemene skadevergoeding

Die toekenning van R400 000 wat die verhoorhof onder hierdie hoof gemaak het, word ter syde gestel en vervang met die bedrag van R250 000.

4. Koste van die kurator bonis

Dit is gemene saak dat die toekenning onder hierdie hoof gelyk moet wees aan 7,8 persent van die vorige drie toekennings. Dit is (R1 588 020.70 + R1 906 225 + R250 000 = R3 744 245.70 x 7,8%) = R292 051.16.

5. Totaal

Hiervolgens bedra die totale bedrag van skadevergoeding dus R4 036 296.80.

 

[69] Aangaande koste, volg dit uit die verweerder se wesenlike sukses in hierdie hof dat die eiser die koste van appèl moet betaal. Met verwysing na die koste in die verhoorhof het daardie hof gelas dat 'geen kostebevel op hierdie stadium gemaak word nie'. Hy het klaarblyklik die moontlikheid voorsien dat die appellant 'n bedrag by die hof inbetaal het wat, uiteraard, by toekenning van koste 'n rol mag speel. Weens dieselfde oorwegings vind ek dit raadsaam dat daardie kostebevel bly staan. Ook die hof a quo se bevel ten aansien van rente is nie aangeveg nie en moet dus eweneens bly staan.

[70] Gevolglik slaag die appèl met koste. Die verhoorhof se bevel word tersyde gestel en vervang met die volgende:

'Vonnis word ten gunste van die eiser teen die verweerder soos volg toegestaan:

(1) R4 036 296.80 synde skadevergoeding;

(2) Rente daarop teen die koers wat ingevolge die bepalings van die Wet op Voorgeskrewe Rentekoers 55 van 1975 voorgeskryf word vanaf 14 dae na datum hiervan (synde 23 Desember 2000) tot datum van betaling;

(3) Geen kostebevel word op hierdie stadium gemaak nie.'

 

 

 

 

………………..

F D J BRAND

APPÈLREGTER

 

Stem saam:

 

Marais AR

Jones Wnd AR

▲ To the top